Woestyn kuier

Die woestyn met die Dooie see in die agtergrond. (foto: Adele)

Israel en Palestiena is woestyn wereld.  Jy is nooit ver van die woestyn nie en sodra jy ‘n stad of dorp soos Jerusalem of Bethlehem verlaat is jy in die woestyn.

Ons is gisteraand woestyn toe om daar te kamp.  Ons gasheer is Ameen, ‘n koffieverkoper by die ‘checkpoint’ in Bethlehem en woonagtig in Tuqu, ‘n dorp so ‘n entjie vanaf Bethlehem.  Ons is later hier weg as wat beplan is en het die laaste deel van die rit in die donker afgele.

Kamele by die Bedohien dorpie

Ons het

wel kamele en Bedohien dorpies langs die pad gesien, maar geen sonsondergang in die woestyn nie.

Met ons aankoms was daar reeds ‘n vuur aan die gang en na die afpak en uitgooi van die matte, matrasse en kussings is ons tee met ‘zatar’ (‘n krui, ek dink dis tiemie, maar dit lyk nie so nie) en heerlike vars vrugte aangebied.

Vars vrugte, jogurtsop, brood en hoender. (foto: Adele)

Rustige Arabiese musiek is saggies in die agtergrond gespeel en ons het heerlik gekuier terwyl ons gasheer hoender en jogurtsop berei het. Die sop is met tuisgemaakte platbrood bedien en die hoederstukke apart.

Ons volgende dis was beesvleis frikkadelle oor die kole gebraai, en nee, dis nie ‘patties’ nie! Die kruie in die frikkadelle was subtiel, heerlik. Nog was dit nie die einde van ons ete nie,  Ameen het hoederstukke wat met kerrie gegeur is oor die kole gebraai, vingerlek-lekker!  die ete is met Arabiese koffie, gegeur met kardemon, afgesluit. Voor slapenstyd het ons in die maanlig gaan stap.  Die woestyn is pragtig in die sagte maanlig en Jordanie se liggies was duidelik sigbaar anderkant die Dooie see.

Na ‘n ietwat ongemaklike nag op matrassies het ons die son se opkoms ingewag.  Pragtig!!  Sonopkoms is altyd vir my mooi, maar so oor die Dooie see!  Dit was nou iets besonders!

Sonopkoms oor die Dooie see. (foto: Adele)

Ons woestyn-ontbyt was heerlik.  Ameen het ons bederf met pitabrode, humus, tamatiesmoor, komkommer stukke en radyse, ‘slaptjips’ en  fyn ‘zatar’ met sesame sade en olyfolie.

Die woestyn ontbyt. (foto: Adele)

Die pitabrood word in die olyfolie gedoop en dan in die kruiemengsel.  Heelike tee, weer gegeur met die kruie, het ons ete afgesluit.

Nou was dit oppak en terug Bethlehem toe, dit is immers ‘n werksdag.

Die resep vir ons Woestynsop.

Die woestynsop of jogurtsop. (foto: Adele)

Braai ‘n ui en 5 knoffeltoontjies in skaap botter tot goudbruin.

Verbruin die hoenderstukke, voeg nog botter by indien nodig.

Voeg 2l water by en kook tot die hoeder gaar is.

Voeg 6 gekneusde kardemom sade, 2 eetl kerriepoeier, 1 eetl borrie, sout en peper na smaak by.

Voeg nou 4 koppies skaap jogurt,( koppie vir koppie) by en roer goed deur.  Die skaap jogurt is ‘n stywe jogurt, lyk amper soos maaskaas.

Laat weer net begin prut en bedien met heerlike tuis gebakte platbrode.  Die hoederstukke word apart bedien.

Die sop is oor die kole gemaak en olyf stompe is vir die vuur gebruik.

Smaaklike ete!

Tot volgende keer.

Posted in Uncategorized | 6 Kommentaar

Die kleur van jou nommerplate

Ja, hier in Palestiena en Israel is die kleur van jou nommerplate baie belangrik.  Dit bepaal waar en op watter paaie jy mag ry en waarheen jy mag gaan.

Die Israeli motors se nommerplate (foto: Adele)

Is jou nommerplate geel met swart syfers, is jou kop deur.  Alle paaie verwelkom jou.  Maar o wee, as jy sulke wittes met groen syfers  het, dan mag jy net in Palestiena ry.

Palestynse nommerplaat (foto: Adele)

Geen Jerusalem of elders in Israel nie, nie eers met ‘n permit nie.  ‘n Motor kan nie ‘n permit kry om ‘na die anderkant’ te gaan nie.  ‘n Persoon kan egter aansoek doen en mag dalk ‘n permit kry vir werk of om mediese redes, maar om sommer net te gaan kuier of so ‘n bietjie in Oos-Jerusalem gaan ronddrentel, dis verbode.

Parkeerterrein by ‘Checkpoint’ 300 (foto: Adele)

Sekere paaie is egter Israeli paaie en Palestynse motors mag net op sekere dele of soms glad nie op daardie paaie ry nie.  Waar hulle wel daarop mag ry is waar daar geen alternatief is nie.  Hier by ‘checkpoint 300’ in Bethlehem is ‘n parkeer terrein waar die wit en groen nommerplaat motors bedags gelaat word terwyl hul eienaars per bus na Oos-Jerusalem gaan.

Om na Jordanie te gaan het nie minder probleme nie.  Die rit moet ook per bus onderneem word, want die Israeli regering laat geen Palestynse motors deur die grenspos nie. Daar is ‘n bus wat jou deur die een helfte van die grens neem en dan moet daar oorgeklim word op ‘n Jordaniese bus om verder te gaan.  Baie Palestyne gebruik Amman se lughawe as vertrek punt vir hul reise.

Ambulanse mag glad nie deur ‘n ‘checkpoint’ gaan nie.  Die pasient word met die Palestynse ambulans tot by die ‘checkpoint’ geneem en dan kom ‘n ambulans van Israel en neem die pasient verder.  Enige verpleeg personeel mag deur gaan, indien hulle ‘n permit het.

Taxi (foto : Adele)

Palestynse taxi’s se nommerplate is groen met wit syfers op.  Minibus taxi’s ry is ‘n belewenis op sy eie.  Ek glo  in Suid-Afrika ook,  moet egter belei dat ek hulle nog nie ervaar het nie, maar dalk moet ek dit oorweeg.  Hier in Palestiena is hulle oranje en word ‘n Service genoem (uitgespreek Serwies) en is relatief goedkoop.  Ek is  van Bethlehem na Ramallah en vandaar na Jericho met so ‘n Service.  Daar is nie ‘n vertrek tyd nie, sodra daar 7 passasiers is vertrek die Service.  Niemand betaal  wanneer jy inklim nie en na ‘n tyd begin die passasiers skielik geld voorentoe stuur.  Die voorste passasiers gee dit vir die drywer en hy stuur weer kleingeld agtertoe. Hy kyk nie wie die geld stuur  nie en  die kleingeld kom nie altyd dadelik nie, soms het hy nie genoeg kleingeld nie of is hy te besig in die verkeer.  Die roetes is op  die Palestynse paaie en daar is nie skouers of strepe nie.   Ek het nie enige padtekens gesien nie en die paaie is baie nou.

Motorhek by ‘checkpoint’ 300 (foto: Adele)

Om hierdie situasie te probeer verstaan het ek aan moontlike voorbeelde gedink wat meer bekend mag wees.  Stel jou voor ‘n GP nommerplaat mag net in Gauteng ry en ‘n Vrystaat nommerplaat  net daar.  ‘n Wes Kapenaar mag nie die heelpad Port Elizabeth toe ry nie en moet iewers anderkant Knysna sy motor agter laat en per bus verder ry.

Ek het nooit gedink dat ‘n nommerplaat se kleur so belangrik is nie!!

Tot volgende keer.

Posted in Uncategorized | 6 Kommentaar

Waarom vye, olywe en druiwe?

‘ n Pragtige voorbeeld van ‘n Olyfboom

Nadat ek besluit het om met hierdie blog te begin het ek redelik lank oor ‘n naam getop, verskeie idees oorweeg en uiteindelik op Vye, Olywe en Druiwe besluit.  Word Press laat my nie toe om kommas of koppeltekens te gebruik nie, vandaar die moeilik leesbare naam.

Olywe?

Hier in Bethlehem is ons omring deur olyfboorde.  Hier is etlike vierkante km beplant met olywe en word hulle erg bedreig deur die aneksasie van Palesteinse grond deur die Israeli regering. Die grond word hoofsaaklik gebruik vir die bou van die skeidingsmuur en uitbreiding van  setlaars dorpe (of soos almal dit hier noem-“Settlements”). Duisende olyfbome is al verwoes, maar dis ‘n storie vir later.

Vye?

Vye is netsoos olywe sinoniem met die gebied en ons lees telkemale van vye of ‘n vyeboom in die Bybel.  Die eerste vars vrugte wat ek hier in Bethlehem geeet het was dan ook vye.  Buite ons kombuisvenster is ‘n olyf- en vyeboom en in die tuin is ‘n wingerdstok.

Druiwe?

Druiwe is nou volop en word gereeld aangebied wanneer ons Palestynse gesinne besoek. Druiwe word ook reeds vanaf die Bybelse tye hier verbou en netsoos die ander vrugte is daar oral wingerdstokke in die tuine.

Die Olyfboom, Vyeboom asook die Wingerdstok is simbole vir Vrede, Voorspoed en Wysheid. Ek is seker almal sal saam stem dat hierdie gebied beslis vrede, voorspoed en baie wysheid nodig het.

Ek gaan vir die volgende drie maande hier woon en wil graag my ondervindinge en waarnemings met julle deel. Stuur asseblief opmerkings en vrae en ek sal kyk of ek hulle sal kan antwoord.

Tot volgende keer.

Posted in Uncategorized | 6 Kommentaar