Dis erg, baie erg!!!

Ek gaan Israel en Palestiena toe! Ek was so opgewonde, omdat ek my ma gaan sien na amper 14 maande, en tweedens, omdat ek ‘n nuwe land gaan besoek. Ek is bewus van die probleme daar, maar ook net so ‘n bietjie. Ek vlieg vanaf Prague, in die Czech Republiek, nadat ek my CELTA kursus voltooi het en sien daarna uit om so bietjie te gaan ontspan! My ‘mooi’ droom van toer,  vakansie en my ma is gou daarmee heen nadat ek by die lughawe aankom.

Dit het vir  my baie lank geneem om te skryf oor wat ek in Israel en  Palestiena ervaar het.

Ek het net die heeltyd vir myself gese: ”Dis nie so erg nie!”  Dis nie so erg dat die Israeli  sekuriteits-mense, by die lughawe in Prague, my vir 2.5 ure ondervra het en soos ‘n krimineel  laat voel het nie; want ek hoef darem nie van 4:00 vm by n ‘checkpoint’  te gaan staan om te gaan werk nie. Ek word darem ook nie in die tronk gegooi net omdat hulle vermoed dat  ek is ‘n terroris  nie. Dis nie so erg dat hulle al my klere en besittings (ek lewe uit my rugsak vir  meer as 5 maande; so dis alles wat ek het!) uit my rugsak skud – sonder enige respek –  en dan later net indruk soos hulle wil nie; want hulle breek darem nie my huis af en verwoes my olyfbome nie. Dis retig nie so erg dat hulle al my CELTA notas op die grond voor my gooi, deur gaan en dan vir my se: “Now you pick it up” nie;  want hulle kom nie met masjiengewere by my skool aan nie. Dis darem nie so erg dat hulle my in my onderklere laat staan vir 20 minute nie; want hulle skiet nie my pa, ma of kinders dood nie. Dis nie so erg dat hulle my paspoort vat, vol rooi plakkers plak en vir my  terug gee net voordat die vliegtuig vertrek nie; want ek het darem ‘n paspoort en kan van een plek na ‘n ander ‘vrylik’ beweeg. Dis nie so erg dat hulle my ‘boarding pass’  terughou en my net eenvoudig op die vliegtuig jaag nie; want ek hoef darem nie aansoek te doen vir ‘n belaglike hoeveelheid permitte en biometriese kaarte nie. Dis nie so erg dat hulle my rekenaar, toiletware en  elektroniese kabels in boksies gooi en onder in die vliegtuig laat vlieg nie (wat ek later op die lughawe in Tel Aviv moes soek nie); want hulle vat darem nie my grond, land en huis af nie. Dis regtig nie so erg dat ek vreeslik ‘violated’ gevoel het nie; want ek sal darem my ma aan die anderkant kan sien.

Wel dit is erg!  Dis vreeslik erg!

Ek voel skuldig! Hoekom?  Want ek het toegelaat dat hulle so met my aangaan!  Dis die wereld (en mense soos ek) wat toelaat dat Israel ander mense soos diere behandel en  daarmee wegkom.  Ons is almal gedeeltelik skuldig vir wat aangaan in daardie mooi land!  Ek is jammer vir die Palesteine wat elke dag soos diere in hokke behandel word. Ek is jammer vir ‘n mooi land wat verwoes word deur geweld, gierigheid, haatsug en selfsug.  Ek is jammer dat ek nie meer gedoen het toe ek daar was nie, want dit is erg, sommer baie erg!

Hierdie stuk is deur ons jongste dogter geskryf, nadat sy vir my in Israel en Palestiena kom kuier het gedurende die laaste helfte van Oktober.

Tot volgende keer.

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

8 Responses to Dis erg, baie erg!!!

  1. avega sê:

    En Hamas maak geen Israeli’s dood nie. Hulle het glad nie missiele op Israel gevuur die afgelope maand nie. Daar is twee kante van die saak.

    • Ons dogter was in Israel en Paelstiena voor die laaste aanvalle op en van Gaza.
      Jy is doodreg, daar is twee kante aan ‘n saak.
      Op 14 November het die Israeliese lugmag (IAF) met Operation Defensive Pillar begin deur Ahmed Jabari, die waarnemende hoof van die militere vleuel van Hamas te dood. Daarna het alle hel los gebars. 14 tot 21 November: Palesteine gedood – 158 (waarvan 33 kinders en slegs 30 betrokke by Hamas); 1 269 beseer en 298 wonings verwoes of ernstig beskadig. Israelies gedood – 6 (geen kinders); 224 beseer en 80 wonings verwoes of ernstig beskadig. Hierdie inligting is beskikbaar op die UN OCHA ‘fact sheets’. Gaza is ‘n 4 myl by 20 myl strook met ‘n muur om en geen plek om heen te vlug of skuil nie. Volgens die UN OCHA kantoor te Jerusalem is dit die dig bevolkste gebied op aarde, daar woon 1,6 miljoen mense.
      Ek wil jou uitnooi, gaan kyk vir jouself wat daar gebeur.
      Gaan Bethlehem toe en stap deur die ‘checkpoint’, wat 2,5km binne Palesteinse gebied gebou is. Die roete van die muur is reeds deur die Internasionale hof as onwettig uitgewys. Stap langs die muur en kyk hoe Ragel (Jakob se vrou) se graf en ‘n parkeerterrein met die muur omring is om dit uit Bethlehem te sny en ontoeganklik vir Palesteine te maak. Terloops, die parkeerterrein se grond is van die Anastas gesin onteien en hul huis word aan drie kante met die muur (tussen 8 – 12m) omring. Let ook op hoe die besighede langs die muur moes sluit vanwee die halwe straat (die muur is in die helfte van die pad gebou) en die feit dat daar nie meer ‘n toevloei van verkeer is nie. Hebronweg was die hoofroete tussen Jerusalem en Hebron. Volg dan die muur en gaan besoek Wi’am, en kyk bietjie hoe hulle glo om verskille op ‘n geweldlose manier te los. As jy verder aanstap met Hebronweg behoort jy by die Service stasie te kom. Neem so ‘n bussie en gaan Hebron toe.
      Vra bietjie rond en stap dan na Shuhadastraat. Hier sal jy ‘n dooie straat sien. Dit was eers een van die besigste strate, maar nou is die grootste deel van die straat verbode vir die Palesteine en is alle besighede gesluit. As internasionale besoeker mag jy daar stap. Op die oomblik woon daar 500 Israeli setlaars en daar is 2 000 soldate om hul ‘op te pas’. As jy verder met die straat stap sal jy plakate sien wat die gebied as Israeli gebied verklaar. Daar is ook ‘n plakaat wat die moord van Jode deur Palesteine van 1929 in detail vertel, Maar daar is geen plakaat wat vertel van 25 Februarie 1994 nie. Dr Baruch Goldstein, ‘n setlaar het met ‘n aanvalsgeweer die Abraham moskee binne gestap tydens die Vrydagmiddag gebedsuur gedurende Ramadaan en 29 biddende mans gedood en 125 gewond.
      Ja, jy is doodreg, elke saak het twee kante.

      Op die oomblik woon daar 500 setlaars en daar is 2 000 soldate om hulle by te staan.

  2. Gert sê:

    Baie interessante blog en ‘n unieke perspektief.

  3. Natalie ginsburg sê:

    Dankie Avega wie u al is……sy moet weet dat as sy Amerika toe gaan, is dit partykeer dieselfde. Ek wonder wat sy van die Israeli se kant gesien het. of sy iets gehoor het van hoe ons Israelis voel. En ek is een van die vrouens op die “left:. Ek het Adele in Israel ontmoet.

    • Ons dogter was al in Amerika en vlieg baie gereeld rond, sy is nog nooit so behandel nie. Sy het vir 13 dae by my gekuier. Sy was 9 dae in Israel en vir 4 dae was sy in Bethlehem en omgewing. In Israel was sy in Wes en Oos Jerusalem, Haifa, Akko, Tel Aviv en Sderot. Sy was ook in die Efrat settlement en het daar vir mnr Bob Lang ontmoet. In Sderot het sy die bomskuilings gesien en met ‘n Israeliese organisasie “The other voice” geskakel. Hierdie organisasie het haar ingelig omtrent hul daaglikse lewens omstandighede en ook oor die omstandighede van hul bure in Gaza. Sy was ook by die uitkykpunt by die muur en kon Gaza sien. Hierdie soort behandeling op die lughawens is nie so vreemd nie. Dis algemeen bekend dat jy ‘n sekuriteits nommer kry ( 2 – 6) en dan daarvolgens behandel word. Jongmense wat alleen reis, kry gewoonlik ‘n 5 of 6 en word as ‘n risiko beskou. Ons dogter is 27 jaar oud en ‘n rugsak reiseger. Haar enigste oortreding was dat sy jonk is, alleen en baie gereeld reis. Sy was nog in geen land wat Israel as vyandig beskou nie.

  4. As ek ‘n bietjie agtergrond kan vra: Is dit so dat Israeliese veiligheidspersoneel verantwoordelik is vir die veiligheid op Praag-lughawe? Waar is die Tsjeggiese veiliheidspersoneel en laat hulle die Israeliese veiligheidspersoneel toe om op Tsjeggiese bodem ‘n vry hand te he? Tweedens, het die Israeliese veiligheidspersoneel lukraak mense uitgekies vir ondervraging en – indien nie – wat het aanleiding gegee dat hulle jou dogter uitgesonder het? Ek probeer net hierdie vreemde optrede binne konteks plaas vir myself.

    • Goeie dag.
      Ons dogter het met die Israeliese lugdiens gevlieg en hulle het op alle lughawens vanwaar hulle reis hul eie sekuriteitsafdeling – ook in Johannesburg. Van die vrye hand in ‘n ander se grondgebied moet jy maar self oordeel, maar volgens my inligting is hulle self en uitsluitlik in beheer van sekuriteitsdienste vir hul vlugte.
      Ons dogter is lukraak uit die ry gehaal. Sy en ‘n Tjeggiese jongman is eenkant toe geneem, sy weet nie hoe die ander behandel is nie. Haar enigste oortreding is die feit dat sy jonk is, 27 jaar, en ‘n rugsak-reiseger is. Sy reis met ‘n rooi rugsak vol vlaggies van oral waar sy reeds gekuier of gewerk het, terloops, sy was nog nie in ‘n ‘vyandige’ land volgens Israel nie.
      Hul grootste bekommernis was waarom sy nie in haar tuisland onderwys gee nie en wie vir haar reise betaal. Sy het hul nie ingelig dat sy vir my kom kuier nie.
      Voor my reis is ek ingelig oor hoe om die lughawe se sekuriteitspersoneel te hanteer as ek in Tel Aviv aankom. Wanneer jy met ‘n ander lugdiens reis word jy op Tel Aviv lughawe ondervra. Jong mense wat alleen reis word oor die algeneem as ‘n bedreiging beskou, daar is ‘n geloof dat jongmense vryheidsaktiviste is. Jong Swede kry veral swaar.
      As jy eendag tyd het, gaan besoek Palestiena en gaan kyk wat daar gebeur. Ek belowe jou dit sal ‘n ‘eye opener’ wees.
      Groetnis.

  5. Dankie vir die insiggewende terugvoer. Ek glo nie dit sal sake enigsins verander nie, maar as ek jou dogter was, sou ek ‘n brief van protes stuur aan beide die Tsjeggiese ambassadeur en die Israeliese ambassadeur in Suid-Afrika en dieselfde brief ook stuur aan ‘n publikasie soos die Mail & Guardian. Al is dit net vir die rekord.

Lewer kommentaar op Natalie ginsburg Kanselleer antwoord