Ek was by ‘n begrafnis…..

Donderdag, 8 November 2012, was ek by ‘n begrafnis.  Nie ‘n gewone begrafnis nie, nie een waar iemand siek was of verongeluk het of selfs vermoor is nie – nee – by ‘n huis se begrafnis. ‘n Gemeenskap, ‘n volk se begrafnis.  ‘n Gemeenskap wat stadig, dag-vir-dag doodgemaak word.  ‘n Kanker wat daagliks aan hulle vreet, hulle stuk-vir-stuk verteer totdat hulle almal sal sterf.

Simpatiseerders ondersteun die families ( foto: Adele)

Dramaties ja, selfs oordrewe dramaties! maar dis soos ek tans voel – my hart is stukkend, ek voel magteloos, moedeloos, radeloos.   Ek het heeltemal genoeg gehad van die geweld, van die mishandeling van ‘n volk wat as terroriste uitgekryt word, terwyl daar daagliks geweld teen hulle gepleeg word.  Ek is moeg daarvan dat die hele wereld hierdie okkupasie gelate toelaat om voort te sluur.

Woensdag-oggend het twee groot stootskrapers, vergesel deur die Israeli Weermag die dorpie Haris in die noord-weste van Palestiena, omring deur settlements, met Revava en Ariel die naaste, binne gegaan.  Twee huise is gesloop, plat gestoot en totaal verwoes.  Die een huis het ‘n aanbouing (woonstel) gehad wat die eienaar se seun vir hom en sy aanstaande bruid gebou het.  Hulle wou in die winter trou en het reeds begin om die huis te meubileer.  Planne, drome en hoop is eensklaps weg – plat gestoot.  Die ander huis het aan ‘n groot uitgebreide gesin behoort.  Hul eie huise op hul eie grond in hul geboorte dorp!

Die oorblyfsels van een van die huise (foto: Adele)

Palestiena is in drie gebiede opgedeel gedurende die Oslo ooreenkomste van 1993 – 1995. Die groter dorpe soos Bethlehem is in Area A en hier is die Palestinian National Authority (PNA) in beheer van munisipale dienste sowel as verkeersdienste en polisieering.  Die kleiner dorpe word as Area B geklassifiseer en hier is die PNA net in beheer van munisipale dienste, die res van Palestiena is Area C en daar is volle Israeliese militere beheer. Dit is slegs die beboude gebiede wat Area A of B is, alle onbeboude areas is Area C.  In die groter Bethlehem, byvoorbeeld, is daar dele waar Area C binne in die dorp inbeweeg.  Geen boupermitte word in Area C toegeken nie en veral die baie klein dorpies ly hieronder.  Met geen boupermitte nie, is daar geen ontwikkeling of natuurlike uitbreiding nie.

Die oorblyfsels van ‘n badkamer (foto: Adele)

Terwyl alle boubedrywighede in Area C gestop is, is daar tenders uitgesit vir 1 231 nuwe wonings in settlements in Oos Jerusalem en Palestiena.  Ariel, een van die settlements naby Haris, gaan 72 nuwe wooneenhede kry.

‘n Lig hang vanaf die verwoeste plafon (foto: Adele)

Die rede vir die slopings is gewoonlik ‘bou-sonder-permit’.  Een van die eienaars van die gesloopte huise het reeds die afgelope drie jaar herhaaldelik  om ‘n permit aansoek gedoen, maar tevergeefs.  Hulle bou uit radeloosheid en glo en vertrou dat die huise staande sal bly.  Nie een van die twee eienaars het ‘n slopingsbevel ontvang nie, gewoonlik ontvang hulle so ‘n bevel en het dus ‘n idee van die sloping.  In hierdie geval was dit ‘n absolute skok en verrassing.

Die nuutste weeklikse statistieke van die UN OCHA kantoor dui aan dat daar in die week van 31 Oktober tot 6 November 2012  in Oos Jerusalem en Palestiena (Wes Bank) 81 strukture gesloop is en dat 172 mense ontwortel is.  Die gesloopte strukture sluit in:  wonings, buite geboue, water opgaartenke en veekrale.  Sedert 1 Januarie 2012 is 557 eenhede  reeds gesloop en is 1 006 mense van hul wonings ontneem.

‘n Woning is een van ons mees basiese behoeftes en deur die wegneem daarvan, word nie net ‘n basiese reg nie, maar ook ons menswees direk aangeval.  Hoe kan ek as ewemens stilswyend toelaat dat ander so behandel word?  Wat het geword van: “Behandel ander soos jy behandel wil word.” 

Ek was by ‘n begrafnis gewees…….

Tot volgende keer.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

2 Responses to Ek was by ‘n begrafnis…..

  1. Ek lees jou inskrywings met aandag en dit boei my. Hoewel ek glo dat ‘n mate van subjektiwiteit amper onvermybaar is in jou situasie, skets jy die Palestynse kant van die saak baie goed en laat jy mens ‘n bietjie beter verstaan. Wat jy hier beskryf stel apartheid amper in ‘n rooskleurige lig. Dis ‘n absolute belaglike en uiters diskriminerende oefening in sosiale ingenieurswese. En ek dink mens begin verstaan waar die haat vir die Israeli’s vandaan kom. En vir die VSA, natuurlik, want laasgenoemde staan bankvas agter Israel.

  2. Annalie Nel sê:

    Dis vreeslik! Jy moet dit net in Engels ook laat uitgaan, dat MEER mense die onreg kan verstaan. Sterkte Adele! Dink aan jou!
    Annalie

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s