Vaarwel Cremisan

Hoeveel nog?  Hoeveel bome? Hoeveel grond? Hoeveel vryheid van beweging? Ja, hoeveel pyn en lyding moet nog verduur word?

Woensdag 24 April 2013 is die hofuitspraak uiteindelik in Tel Aviv gelewer.  Na 7 jaar se pleit en wag is die beslissing daar.  Die Skeidingsmuur gaan voort!! Vyf-en-tagtig present van die muur gaan by voltooiing daarvan op Palestynse grondgebied staan en slegs 15% gaan op die werklike grens wees.  Hierdie roete is reeds in die Wereld Hof as onwettig uitgewys. Israel of enige ander land kan ‘n muur op sy grens bou, maar nie op ‘n ander se grondgebied nie!! Israel gaan egter ongehinderd voort, en die Cremisan vallei is volgende.

Die skeidingsmuur in Bethlehem. Kyk net hoe vleg die muur om sekere dele in en ander uit te sny. (foto: Adele du Toit)

Die skeidingsmuur in Bethlehem. Kyk net hoe vleg die muur om sekere dele in en ander uit te sny. (foto: Adele du Toit)

Die vallei vorm deel van Beit Jala, ‘n klein dorpie net buite Bethlehem.  Bethlehem, Beit Sahour en Beit Jala is die gebied in Palestiena waar die meeste Palestynse Christene woon.  Ongeveer 65% van Beit Jala se inwoners is Christene.  Die klooster vir die monnike is reeds in 1885 gebou en die vir die nonne in 1960.  Die nonne bedryf ‘n skool en die monnike ‘n kelder.  Die enigste wynkelder in Palestiena en hulle maak al  vir meer as ‘n eeu hul beroemde Cremisan rooiwyn. Die skeidingsmuur gaan nou die monnike aan die Jerusalem kant  en die nonne aan die Beit Jala kant plaas. ‘n Groot deel van die klooster se wingerd gaan in die slag bly, die nonne gaan 75% van hul grond verloor en die muur gaan hulle aan drie kante begrens.  Die dorpie gaan feitlik omring word deur die muur en hulle vryheid van beweging gaan geweldig beperk word.

Volgens die Israelse regering bou hulle die muur vir sekerheidsredes, maar die Palestyne in die Wesbank (Palestiena) wend hulle tot vreedsame en geweldlose verset. Vir die afgelope 3 jaar het die inwoners van Beit Jala elke Vrydagmiddag onder die olyfbome in die Cremisan vallei bymekaar gekom vir ‘n Mis gelei deur vader Ibrahim Shomali. Dit is maar een van die vele voorbeelde van vreedsame en geweldlose verset.

Vader Ibrahim Shomali en 'n paar misgangers. Die Har Gilo nedersetting is sigbaar  in die agtergrond.  (foto: Adele du Toit)

Vader Ibrahim Shomali en ‘n paar misgangers. Die Har Gilo nedersetting is sigbaar in die agtergrond. (foto: Adele du Toit)

Daar was jare gelede laas ‘n motorbom vanuit die gebied, maar tog gaan die bou van die muur voort, so ook die bou van die onwettige nedersettings (‘settlements’).  En dis hier waar die Cremisan vallei die klip in Israel se skoen is.  Gilo, een van die oudste onwettige nedersettings is aan die eenkant van die vallei en Har Gilo, ‘n latere onwettige ontwikkeling, aan die anderkant.  Met die muur wil hulle die twee gebiede met mekaar verbind.  Die prys wat die Palestyne en veral die Christen Palestyne moet betaal is geweldig hoog.

Die landbougrond is  buite om die dorpe en die boere woon in die dorpe.  Hierdie landbougrond word nou deur die muur afgesny.  Die Israelse regering se die boere kan permitte kry om hul grond te bewerk, maar in die verlede was dit geweldig moeilik om so ‘n permit te bekom om op jou grond te kan kom.  Hoekom sal dit nou skielik verander?  Verskeie redes word voorgehou waarom ‘n boer nie op sy grond mag kom nie, gewoonlik is dit veiligheidsredes.  Dis egter nie die boere se skuld dat hul grond aan die verkeerde kant van die muur is nie. Die geskiedenis bewys dat die onwettige setlaars die grond beset en die grond vir hulle toe-eien. Vanaf Januarie tot 21 April 2013 is reeds meer as    2 500 bome (hoofsaaklik Olywe, maar ook ‘n paar Amandels) beskadig of verwoes deur die Israelse weermag en of setlaars.  Hierdie bome was nie eers aan die ‘anderkant’ van die muur nie!

Olyfbome in die Cremisan vallei (foto:Adele du Toit)

Olyfbome in die Cremisan vallei (foto:Adele du Toit)

Agt-en-vyftig Palestynse gesinne gaan deur die muur afgesny word .  Hulle gaan aan die Jerusalem kant wees,maar mag nie inwoners van Jerusalem wees nie.  Hierdie gesinne gaan besonder swaar kry.  Hulle moet permitte kry om in hul eie wonings op hul eie grond (wat nou wie se grond is?) te woon.  Besoekers moet permitte kry om hulle te besoek en geen oorslaap besoekers word toegelaat nie.  Die getal persone per huis word gewoonlik beperk, indien besoekers toegelaat sou word, sal dit slegs een of twee wees.  Internasionale gaste, bv EA’s, die Rooikruis, ea. word gewoonlik toegelaat, maar ook slegs twee of drie op ‘n keer en hulle mag ook nie oorslaap nie.

Die Cremisan vallei is op die oomblik die belangrikste groenarea in die Bethlehem-distrik.  Die ander piekniek en ontspanningsarea wat baie gewild was, is gebruik om die onwettige nedersetting Har Homa te bou. Die muur ontneem die inwoners dus nie net van hul landbougrond nie, maar ook van hul groen- en ontspanningsarea.

* Dit is onwettig volgens Internasionale reg vir ‘n okkupeerder om sy inwoners in die geokkupeerde gebied te plaas.  Die Wereld hof het reeds die oprigting van die nedersettings in Palestiena (die Wesbank) as onwettig uitgewys.  Die voortgaan met die bou van die nedersettings is een van die grootste redes waarom vredesonderhandelinge nie kan begin nie.

Tot volgende keer.

Advertisements
Posted in Uncategorized | 2 Kommentaar

Dis erg, baie erg!!!

Ek gaan Israel en Palestiena toe! Ek was so opgewonde, omdat ek my ma gaan sien na amper 14 maande, en tweedens, omdat ek ‘n nuwe land gaan besoek. Ek is bewus van die probleme daar, maar ook net so ‘n bietjie. Ek vlieg vanaf Prague, in die Czech Republiek, nadat ek my CELTA kursus voltooi het en sien daarna uit om so bietjie te gaan ontspan! My ‘mooi’ droom van toer,  vakansie en my ma is gou daarmee heen nadat ek by die lughawe aankom.

Dit het vir  my baie lank geneem om te skryf oor wat ek in Israel en  Palestiena ervaar het.

Ek het net die heeltyd vir myself gese: ”Dis nie so erg nie!”  Dis nie so erg dat die Israeli  sekuriteits-mense, by die lughawe in Prague, my vir 2.5 ure ondervra het en soos ‘n krimineel  laat voel het nie; want ek hoef darem nie van 4:00 vm by n ‘checkpoint’  te gaan staan om te gaan werk nie. Ek word darem ook nie in die tronk gegooi net omdat hulle vermoed dat  ek is ‘n terroris  nie. Dis nie so erg dat hulle al my klere en besittings (ek lewe uit my rugsak vir  meer as 5 maande; so dis alles wat ek het!) uit my rugsak skud – sonder enige respek –  en dan later net indruk soos hulle wil nie; want hulle breek darem nie my huis af en verwoes my olyfbome nie. Dis retig nie so erg dat hulle al my CELTA notas op die grond voor my gooi, deur gaan en dan vir my se: “Now you pick it up” nie;  want hulle kom nie met masjiengewere by my skool aan nie. Dis darem nie so erg dat hulle my in my onderklere laat staan vir 20 minute nie; want hulle skiet nie my pa, ma of kinders dood nie. Dis nie so erg dat hulle my paspoort vat, vol rooi plakkers plak en vir my  terug gee net voordat die vliegtuig vertrek nie; want ek het darem ‘n paspoort en kan van een plek na ‘n ander ‘vrylik’ beweeg. Dis nie so erg dat hulle my ‘boarding pass’  terughou en my net eenvoudig op die vliegtuig jaag nie; want ek hoef darem nie aansoek te doen vir ‘n belaglike hoeveelheid permitte en biometriese kaarte nie. Dis nie so erg dat hulle my rekenaar, toiletware en  elektroniese kabels in boksies gooi en onder in die vliegtuig laat vlieg nie (wat ek later op die lughawe in Tel Aviv moes soek nie); want hulle vat darem nie my grond, land en huis af nie. Dis regtig nie so erg dat ek vreeslik ‘violated’ gevoel het nie; want ek sal darem my ma aan die anderkant kan sien.

Wel dit is erg!  Dis vreeslik erg!

Ek voel skuldig! Hoekom?  Want ek het toegelaat dat hulle so met my aangaan!  Dis die wereld (en mense soos ek) wat toelaat dat Israel ander mense soos diere behandel en  daarmee wegkom.  Ons is almal gedeeltelik skuldig vir wat aangaan in daardie mooi land!  Ek is jammer vir die Palesteine wat elke dag soos diere in hokke behandel word. Ek is jammer vir ‘n mooi land wat verwoes word deur geweld, gierigheid, haatsug en selfsug.  Ek is jammer dat ek nie meer gedoen het toe ek daar was nie, want dit is erg, sommer baie erg!

Hierdie stuk is deur ons jongste dogter geskryf, nadat sy vir my in Israel en Palestiena kom kuier het gedurende die laaste helfte van Oktober.

Tot volgende keer.

Posted in Uncategorized | 8 Kommentaar

Ek was by ‘n begrafnis…..

Donderdag, 8 November 2012, was ek by ‘n begrafnis.  Nie ‘n gewone begrafnis nie, nie een waar iemand siek was of verongeluk het of selfs vermoor is nie – nee – by ‘n huis se begrafnis. ‘n Gemeenskap, ‘n volk se begrafnis.  ‘n Gemeenskap wat stadig, dag-vir-dag doodgemaak word.  ‘n Kanker wat daagliks aan hulle vreet, hulle stuk-vir-stuk verteer totdat hulle almal sal sterf.

Simpatiseerders ondersteun die families ( foto: Adele)

Dramaties ja, selfs oordrewe dramaties! maar dis soos ek tans voel – my hart is stukkend, ek voel magteloos, moedeloos, radeloos.   Ek het heeltemal genoeg gehad van die geweld, van die mishandeling van ‘n volk wat as terroriste uitgekryt word, terwyl daar daagliks geweld teen hulle gepleeg word.  Ek is moeg daarvan dat die hele wereld hierdie okkupasie gelate toelaat om voort te sluur.

Woensdag-oggend het twee groot stootskrapers, vergesel deur die Israeli Weermag die dorpie Haris in die noord-weste van Palestiena, omring deur settlements, met Revava en Ariel die naaste, binne gegaan.  Twee huise is gesloop, plat gestoot en totaal verwoes.  Die een huis het ‘n aanbouing (woonstel) gehad wat die eienaar se seun vir hom en sy aanstaande bruid gebou het.  Hulle wou in die winter trou en het reeds begin om die huis te meubileer.  Planne, drome en hoop is eensklaps weg – plat gestoot.  Die ander huis het aan ‘n groot uitgebreide gesin behoort.  Hul eie huise op hul eie grond in hul geboorte dorp!

Die oorblyfsels van een van die huise (foto: Adele)

Palestiena is in drie gebiede opgedeel gedurende die Oslo ooreenkomste van 1993 – 1995. Die groter dorpe soos Bethlehem is in Area A en hier is die Palestinian National Authority (PNA) in beheer van munisipale dienste sowel as verkeersdienste en polisieering.  Die kleiner dorpe word as Area B geklassifiseer en hier is die PNA net in beheer van munisipale dienste, die res van Palestiena is Area C en daar is volle Israeliese militere beheer. Dit is slegs die beboude gebiede wat Area A of B is, alle onbeboude areas is Area C.  In die groter Bethlehem, byvoorbeeld, is daar dele waar Area C binne in die dorp inbeweeg.  Geen boupermitte word in Area C toegeken nie en veral die baie klein dorpies ly hieronder.  Met geen boupermitte nie, is daar geen ontwikkeling of natuurlike uitbreiding nie.

Die oorblyfsels van ‘n badkamer (foto: Adele)

Terwyl alle boubedrywighede in Area C gestop is, is daar tenders uitgesit vir 1 231 nuwe wonings in settlements in Oos Jerusalem en Palestiena.  Ariel, een van die settlements naby Haris, gaan 72 nuwe wooneenhede kry.

‘n Lig hang vanaf die verwoeste plafon (foto: Adele)

Die rede vir die slopings is gewoonlik ‘bou-sonder-permit’.  Een van die eienaars van die gesloopte huise het reeds die afgelope drie jaar herhaaldelik  om ‘n permit aansoek gedoen, maar tevergeefs.  Hulle bou uit radeloosheid en glo en vertrou dat die huise staande sal bly.  Nie een van die twee eienaars het ‘n slopingsbevel ontvang nie, gewoonlik ontvang hulle so ‘n bevel en het dus ‘n idee van die sloping.  In hierdie geval was dit ‘n absolute skok en verrassing.

Die nuutste weeklikse statistieke van die UN OCHA kantoor dui aan dat daar in die week van 31 Oktober tot 6 November 2012  in Oos Jerusalem en Palestiena (Wes Bank) 81 strukture gesloop is en dat 172 mense ontwortel is.  Die gesloopte strukture sluit in:  wonings, buite geboue, water opgaartenke en veekrale.  Sedert 1 Januarie 2012 is 557 eenhede  reeds gesloop en is 1 006 mense van hul wonings ontneem.

‘n Woning is een van ons mees basiese behoeftes en deur die wegneem daarvan, word nie net ‘n basiese reg nie, maar ook ons menswees direk aangeval.  Hoe kan ek as ewemens stilswyend toelaat dat ander so behandel word?  Wat het geword van: “Behandel ander soos jy behandel wil word.” 

Ek was by ‘n begrafnis gewees…….

Tot volgende keer.

Posted in Uncategorized | 2 Kommentaar

Goeiemore Bethlehem

“dis 03:15 en tyd om op te staan” praat my selfoon hier langs my.  Ek is nie lus vir opstaan nie, maar wie is om 03:15 lus vir opstaan? Gelukkig het ek netnou, (so voel dit) my klere reg gesit en kan ek vinnig gesig was en aantrek, 03:40 val ek en Ellinor in die pad.  Ons is op diens by die grootste checkpoint in Palestiena – Checkpoint 300, Bethlehem.

Dis nog donker en koel, nie regtig koud nie. Die koue kom kruip onder jou blad in sodra die dag sy kop uitsteek.  Net buite die ingang staan die smouse reg met enigiets van blikkieskos, hardgekookte eiers, brood, falafel en selfs toiletware en plastiese bakkies.

Ameen, by sy koffie stalletjie, by checkpoint 300 Bethlehem (foto: Adele)

Hul tafels is swaar gelaai en die gaslampe suis gerusstellend.  Ameen, die koffie verkoper, staan reg met ‘n lekker koppie arabiese koffie – net wat ek nou nodig het, om my goed wakker te kry.

“Sabah ilkher” en  “sabah innur” klink vrolik op soos almal oor en weer groet. Dis net voor 4 en ek en Ellinor stap die lang gang tussen die tralies op, sy gaan in die eerste hok staan om die mense te tel.  Ek gaan deur na die uitgang om deur my teenwoordigheid, internasionale beskerming te probeer verleen en om ook die uitgangsproses waarteneem.  Teen 05:30 ruil ons om en gaan ek weer tel en kyk of ek kan help as iemand deurgang geweier word. Ons probeer ook om te bepaal hoe lank dit neem om deur te beweeg.

Die traliegange, regs die ingang en links die uitgang, by checkpoint 300 (foto: Adele)

By die eerste draaihek staan  ek en die werkers en wag, die hek is toe.  Met my paspoort en hulle werkspermitte wag ons geduldig totdat die hek open.  Nou is dit een-een deur stap en dokumente wys.  Dan oor die oop stuk teer na die groot terminaal aan die anderkant, seker so 35 – 40m.  Party hardloop en ander stap rustiger.  Nou reguit na die metaalverklikker. Skoene uit, gordels af en alles wat metaal bevat moet in die bak gesit word.  My EAPPI onderbaadjie met selfoon,  beursie, notaboek en wat nog alles moet ook bak toe.  Met my deurgaan skree die verklikker, my armbande  het te veel metaal!  Nou is ek goed wakker geskrik en reg vir die lang dag wat voorle.  Oor die luidsprekers kom onverstaanbare  #Hebreeuse opdragte.  Die taal is nie die enigste probleem nie, soos by die meeste lughawens is dit ook ‘onhoorbaar’ al is dit kliphard. Dit lyk nie of enig iemand hul daaraan steur nie.

Met alles weer aangetrek en my armbande om my arm is ons oppad na die ID hokkies.  Hier is lang rye, net 3 van die 12 hokkies is vanoggend oop en geduld is die wagwoord! Ek moet net my paspoort en visa wys.  Die werkers moet hul Palestynse ID, werkspermit, biometriese-elektomagnetiese-kaart op die leser plaas en dan hul vinger in die vingerafdruk-leser druk. In die hokkie  sit ‘n jong soldaat voor ‘n rekenaarskerm en hy of sy moet seker maak dat ons is wie ons se ons is.  Hulle is tevrede en nou is dit buiten toe, busstop toe.   Ag-en-veertig minute nadat ek koffie by Ameen gekoop het is ons deur en draf die werkers na bus 24 om Jerusalem toe te gaan.

“Good morning, sabah ilkher groet ek, baie groet terug, ander draf verby.  Net buite die terminaal is daar ‘n paar mans besig met hul oggendgebede.

Dis kort na 7 en ek is op pad huis toe, die dames van *Machsom Watch behoort enige oomblik hier te wees. Vanoggend is daar 3 892 mense tussen 4 en 7 deur die checkpoint.  Ek gaan nou bietjie rus en dan ontbyt eet, die res van my dag begin eers later.  Hierdie manne het egter nie daardie voordeel nie en more oggend is dit weer, die lang wag om betyds by die werk te wees.

Tot volgende keer.

#Die soldate is oor die algemeen nie Arabies magtig nie en die Palestyne weer nie Hebreeus nie.

*Machsom Watch is ‘n Joodse organisasie wat hulle beywer vir die verbetering van omstandighede by die checkpoints.  Hulle kom ‘n paar oggende ‘n week na die checkpoints en probeer help met heraansoek om werkspermitte en probeer ook uitvind waarom sekere werkers oornag be-“black list” word.  Hierdie dames mag egter nie deur beweeg nie en moet aan die Israeli kant bly.  Ons gee vir hulle inligting oor probleemgevalle.  Machsom Watch is ‘n groot hulp en het direkte kontak met die betrokke Israeliese owerhede.

Posted in Uncategorized | 1 Kommentaar

Feite: Wie vat wat waar?

Ek wil  graag hierdie feiteblad deur middel van die onderstaande skakel met julle deel.

Settlements en hul inwoners is een van die vele probleme waarmee Palestyne daagliks te kampe het.  Van hierdie onwettige woongebiede is religieus en ander meer ekonomies van aard.

Die Israeli regering subsideer munisipale dienste en huisverbande in hierdie gebiede, dit is dus baie goedkoper vir Israelies  om daar te woon. Slegs Israelies mag daar woon. Daar is mooi parke, die woonareas is goed uitgele en beskik oor mooi en goeie fasiliteite soos skole en winkelsentrums.  In kort, dis nie ‘n slegte plek om te woon nie, maar dis op Palestynse se grond, geokkupeer deur Israel!! Dit blyk dat die religieuse gebiede se inwoners hulle meer tot geweld wend en meer betrokke is by geweld, vandalisme, beskadiging van bome en verwoesting van oeste.  Die Israeli weermag is duidelik daar vir die beskerming van die setlaars en nie vir reg en geregtigheid soos ek dit verstaan nie.

Hierdie feiteblad (dis net een bladsy lank) mag dalk die huidige situasie in Palestiena duideliker maak.

Lees asseblief die nuutste inligting deur OCHA verskaf. 

Tot volgende keer.

Posted in Uncategorized | 3 Kommentaar

Wie? Waar? An Nu’man?

An Nu’man is ‘n dorp oos van Bethlehem en suid van Jerusalem. Volgens alle Israeliese bronne bestaan die dorp glad nie, maar daar woon 127 mense!  Hulle is in Jerusalem, maar nee hulle is nie; hulle is in Palestiena, maar nee ook nie…. Gedurende die 1967 sensus (net na die inval in Palestiena) is daar deur Israel besluit om die inwoners as Al Khas inwoners te tel, dus het An Nu’man skielik ophou bestaan.  Al Khas is sowat ‘n kilometer verder en val binne Palestiena se grense.

An Nu’man se grond val binne die groter Jerusalem, maar sy inwoners word as Palestyne beskou.  Hulle woon dus “onwettig” in hul eie huise op hul eie grond. Die pad na Jerusalem is versper met ‘n groot geel hek.  Net onder die dorp is groot pad 356 van Hebron na Jerusalem met sy ‘checkpoint’.

Die hek in die ou pad na Jerusalem

Gedurende 1992 is die inwoners ingelig dat hulle die dorp moet verlaat, aangesien hulle in die groter Jerusalem woonagtig is, en geen Jerusalem ID’s het nie. Hulle het aansoek gedoen om die korrekte ID’s, maar is geweier want hulle is Palestyne, dus geen blou Jerusalem ID nie! ‘n Jerusalem ID gee jou die reg om binne die grense van Oos Jerusalem te woon, maar jy is geen burger van Israel nie.

Geen besoekers, familie, vriende en self werkers word in An Nu’man  toegelaat nie (deesdae word internasionale besoekers en die UN wel toegelaat). Net inwoners wat in 1992 gelys is mag die dorp binne gaan.  Vryheid van beweging is ‘n internasionale reg en is veronderstel om deur die internasionale gemeenskap gewaarborg te word. Een van die grootste probleme van hierdie beleid is dat ‘n huweliksmaat nie van buite die dorp mag kom nie.  Of anders gestel, trou jy met iemand van buite mag hy of sy nie by jou kom woon nie! Die egpaar moet hulle iewers anders gaan vestig.  Die inwoners van An Nu’man bestaan uit twee uitgebreide gesinne, 127 in totaal, en huweliksmaats is nie so volop nie.

Almal moet deur ‘n checkpoint gaan – in en uit,  skool toe, werk toe, dokter toe en winkel toe, almal wat in of uit gaan se sakke en skooltasse word deur soek.  Die kinders wat nog nie ID’s het nie moet hul geboortesertifikate toon.  Een gesin se name het onverklaarbaar van die lys verdwyn en is nou reeds vir 2 weke vasgekeer.  Die kinders kan nie skool toe gaan nie en die pa kan nie gaan werk nie.  Dis nie die eerste keer dat so iets gebeur het nie, ander gesinne was al in dieselfde penarie.  Daar word vertoe gerig na die betrokke Israeliese departement en na vele korrespondensie en bewys van verblyf van voor 1992 verskyn hul name weer op die lys.

Die oorblyfsels van ‘n gesloopte huis in An Nu’man

Geen boupermitte word vir An Nu’man goedgekeur nie. Nie nuwe geboue, aanbouings of selfs herstelwerk aan die buitekant van die huise, stalle of buitegeboue word toegelaat nie.  Waag dit en ‘n stywe boete en slopingsbevel word uitgereik. Die inwoners bou soms uit pure desperaatheid en hoop dat die gebou nie gesloop sal word nie.  Tot dusver is alle aanbouings en strukture wat so ‘onwettig’ op eie grond opgerig is gesloop. Onwettige settlements (onwettig volgens internasionale wetgewing) brei egter daagliks uit. In 1997 is daar met konstruksie van een so ‘n gebied, Har Homa begin.

Har Homa in die agtergrond

Har Homa is op ‘n heuwel bedek met Dennebome opgerig.  Eens op ‘n tyd was dit ‘n gewilde piekniek en ontspannings gebied vir die inwoners van Bethlehem en omgewing.  Har Homa word nou as ‘n voorstad van die groter Jerusalem beskou en die Skeidingsmuur is so gebou om dit in te sluit.  Die inwoners in hierdie settlement is veel meer ekonomiese setlaars as religieuse setlaars.  Munisipale dienste en huisverbande word  deur die Israeli regering gesubsideer en sodoende word mense “vrywillig”verskuif na die geokkupeerde gebied.  Dit is dus finansieel ‘n goeie skuif vir die Israeliese inwoners, maar teen watter koste vir die Palestyne?  Palestynse grond word onteien.  Daar is nerens grond wat aan niemand behoort nie!  Israel is die okkuperende mag,  die grond ‘behoort’ nie aan Israel nie.  Nie al die wooneenhede word bewoon nie en tog gaan die ontwikkeling voort.

Israel gaan voort met sy bouprogram in die geokkupeerde gebied, terwyl die inwoners van An Nu’man nie 2 stene opmekaar mag sit nie!  Geen kinderpartytjies met maatjies van ’buite’ nie, geen troue, begrafnis of sommer net ‘n lekker kuier met geliefdes van buite An Nu’man nie.

Lugfoto van die An Nu’man en Har Homa omgewing

Op die lugfoto is An Nu’man regs onder (as Khallet an Nu’man aangetoon. Die  “An Nu’man” spelling word meer algemeen gebruik).Net links is Har Homa in blou ( die onwettige settlements word in blou aangetoon).  Die rooilyn is die skeidingsmuur en die groenlyn, aan die bokant van die foto, is die 1949 Armistice grens, wat wereldwyd aanvaar word as die amptelike grens tussen Israel en Palestiena.  Dit is dus duidelik dat die onwettige settlements asook die skeidingsmuur op Palestynse grond gebou is en dat grond hier ‘gesteel’ word.

Stadig, dag vir dag word An Nu’man se bloed uit haar gewurg en op ‘n dag gaan sy van die Palestynse grondgebied verdwyn.

Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar

Staan reg met die uie!!

                                     “What is yourrr name?  How old arrre you?  Wherrre you frrrom?  So word ek gereeld gegroet deur ‘n borrelende groep laerskool kinders.

So ‘n paar laerskool seuns. (foto: Adele)name?  How old arrre you?  Wherrre you frrrom?  Welcome – welcome!”  So word ek gereeld  deur ‘n borrelende groep laerskool kinders gegroet.

Toegang tot onderwys is veronderstel om ‘n primere reg vir almal te wees, maar nee, nie altyd nie!

Tuqu is ‘n dorp tussen die heuwels suid van Bethlehem en grens aan twee Israeli ‘settlements’ – Tekoa en Nokdim.  (Hierdie woord – ‘settlements’ word internasionaal erken en ek gaan dit ook so gebruik).  Alle settlements in Palestiena is onwettig volgens die Vierde Geneevse Konfensie en internasionale wetgewing.  Die Wereldhof het ook  op 9 Julie 2004 in Den Haag bepaal dat hierdie vestiging van Israelis in die besette Palestynse gebied onwettig is.  Die VN resolusie 465 van 1980 verklaar verder dat “Israel’s policy and practises of settling parts of its population and new immigrants in the occupied territories, a serious obstruction to achieving a comprehensive, just and lasting peace in the Middle East” is.

Terug by Tuqu:

Een van die groot probleme wat hier bestaan is dat die Israeli setlaars en die Palestynse inwoners almal ‘n pad moet deel wat by ‘n groep van drie skole verby loop.  ‘n Laerskool en sekondere dogterskool is aan die weste kant en oos is die sekondere seuns

Die straat voor die skool, met ‘n weermag voertuig in die agtergrond. (foto: Adele)

skool.

Die weermag is soggens en namiddae by die skole teenwoordig, maar nie om die kinders teen die besige pad te beskerm nie! om die setlaars te beskerm teen soos wat beweer word, klipgooiende kinders. Ek het nog nooit kinders sien klipgooi nie, maar ontken nie dat dit soms kan gebeur nie. Ek sien egter gereeld dat die weermag die kinders ontsenu en die ouer seuns selfs uitlok.

Die weermag voertuie kom soms tot binne die skoolterrein, terwyl die skool aan die gang is of gedurende pouses. Traanrook is ook al gedurende skooltyd by die skole gegooi. Teen die einde van die vorige akademiese jaar het dit weer gebeur en het die skoolhoof van die laerskool met die soldate gaan praat, maar dit het geen effek op hul optrede gehad nie.  Die kinders is in die skool en kan tog nie dan klippe gooi nie.   Die skoolhoof het gese dat hulle “altyd uie gereed moet he”, die uie help om die effek van die traanrook tee te werk – glo raad wat van Suid Afrika kom!

Die skole en weermag se hartseer verbinding kom al vanaf die laat 1980’s.  Vier seuns tussen die ouderdomme van 15 en 17 jaar is reeds deur skerpskutters dood geskiet en ‘n hele paar is gewond.  Die eerste (15) is gedurende 1989, tydens skooltyd, op die skoolterrein van die sekondere  dood geskiet en die laaste gedurende 2008, skuins voor die skool.  Hierdie en ander gereelde arrestasies van veral jong seuns het tot gevolg dat die kinders baie senuagtig en gespanne raak met die weermag se teenwoordigheid.  Gedurende die somervakansie (Junie – Julie 2012) is drie seuns gearresteer en Brahim Foauad Sabbah (17) is nog steeds in aanhouding sonder enige verhoor.

Die weermag voertuie voor die huis langs die skool. (foto: Adele)

Die weermag neem soggens en smiddae voor ‘n huis, reg langs die laerskool plaas.  Een of twee Jeeps met swaar gewapende jong soldate neem dan hul posisies in en bly daar totdat die skole begin of al die kinders huis toe is. Die eienaar van die huis vertel dat die weermag op ‘n gereelde basis hul huis beset en dan ‘n basis daar oprig om die wereld dop te hou. Hulle mag nie die huis verlaat of deur die vensters kyk as die weermag daar is nie.  Die buite blindings moet toe wees.

Asof hierdie situasie nie genoeg is nie, word die kinders verder blootgestel aan ‘n vreeslike besige pad wat reg voor die laer- en dogterskole verby loop.  Die pad is gedurende 1966 deur Jordanie gebou as ‘n gewone hoofstraat deur die dorp.  Die oprigting van die Skeidings muur het egter tot gevolg dat die roete van Jerusalem na Hebron by Bethlehem gestop is en nou word die pad deur Tuqu  as hoofpad van Ramallah na Hebron gebruik. Die twee naburige settlements, Tekoa en Nokdim, se inwoners gebruik ook die pad. Die gewone hoofstraat het dus nou in ‘n baie besige ‘high way’ geword.   Tuqu en omgewing is ten volle onder Israeli beheer en enige poging deur die skool en dorpsraad om of ‘n sypaadjie, verkeerslig, spoedwalle of selfs ‘n voetbrug aan te bring word verbied.  ‘n Settlement nie baie ver van Tuqu nie, in die Gush Etzion blok, het egter ‘n voetbrug oor die pad vir die setlaarkinders.

Die straat voor die skole. (foto: Adele)

Goed opgeleide en toegewyde onderwysers probeer daagliks hul bes om kwaliteit onderrig aan die ongeveer 1 200 kinders te bied, maar die okkupasie van Palestiena maak dit feitlik onmoontlik.  Onderrig en opleiding vorm een van die baie belangrike boustene in die Palestynse sameleweing en die bevolking is goed opgelei. Maklik is dit egter nie!

UNISEF is tans besig met ‘n studie oor die toeganklikheid van onderrig in die geokkupeerde Palestynse gebied.

Posted in Uncategorized | 4 Kommentaar